De vroue en de fiets

Die Groot Lem is hierdie maan weer besig om ’n paar vere rond te krap. Lees gerus verder oor die eerste
vroue-fietsresies in Nederland.

PHOTO: https://i.pinimg.com

Onlangs in Amsterdam gee ’n goeie fietsvriend vir my ’n boek met die naam De Taal van de Fiets deur Wim Daniels.. Hoofstuk sewe begin soos volg: “Als je in een boek een hoofdstuk hebt met als titel “De vrouw en de fiets” maar daarnaast geen hoofdstuk opneemt getiteld ‘De man en de fiets’, dan is er iets aan de hand met het onderwerp in kwestie of met de auteur van
het boek.” Dan skryf Daniels heelwat oor die geskiedenis van vroue in fietsry-wedrenne en vroue op fietse as vervoermiddel.

Ons moet onthou dat die fiets ’n simbool van vryheid is en mans wou nie aan vroue dieselfde vryheid as wat hul nou gevind het, gee nie. Heel gepas was die eerste dames-fietsryklub in Nederland dan ook genoem die VVVWWW (Vrije Vrouwen Vereniging Wij Willen Wielen)! Is dit nie ’n beautiful naam vir ’n vroue-fietsryklub of -groep nie? Ek hoor ook by ou ’n Nederlandse familie dat toe die fiets ontdek is kon ’n jong man makliker by die volgende dorpie uitkom om daar te gaan vry. Anders was dit maar seker tussen niggies en meisies van dieselfde dorp. So incest en inbreeding en daai goed is gestop deur die fiets. So ek kan heeltemal verstaan dat die Europese mans die fiets weggehou het van die dames, hulle was nou nie lus dat Sannie die fiets vat en gaan kyk hoe lyk die melkman in die volgende dorpie nie.

Daar was ook daai tyd groot bekommernisse onder die huisartse en ander medici dat dit biologies sleg is vir vroue om fiets te ry. Sannie kan dalk iets beskadig deur op daai saal te sit en kan dalk nie 15 kinders kry nie. Maar gerieflikheidshalwe vergeet die arts dat Willem heeldag vir klein Willempie vasknyp en sy bloedsomloopafsny deur op die saal van sy ysterperd te sit. As mens meer kyk na die kompeterende, resiesjaag van vroue en fietse is dinge nie veel beter as in 1958 toe die eerste “dameswielrennen” in die Nederland gehou is nie. Daardie tyd was 40km die maksimum afstand wat die vroue se Nederlandse padresies-kampioenskappe was. Daar was groot opskudding toe die wêreldkampioenskappe oor 59km gehou was.

Ons is nou in 2018, dis glo die moderne en verligte tyd. Ons is glo almal gelyk. Die vroue “Tour de France” was nou in Julie oor een dag gehou, die mans se wedren was oor 21 dae. Die vroue prysgeld, media, televisiedekking, salarisse is nog in die dark ages. Amper 20% van Professional rensters in Europa verdien nie eers ’n salaris nie; die totale begroting van ’n hele vroue span is minder as die salaris van een bogemiddelde mansryer. Daar is reëls vir minimum salarisse by die mans, nie by die vroue en baie ander ongelykhede wat ’n hele boek sal opvat.

Daar is selfs een Dames-uitgawe van jou favourite fietsrytydskrif en die res van die jaar is dit seker mans-uitgawes. So die kultuur van ongelykheid in die 1800’s en die 2000’s is eintlik nog presies dieselfde. Ek wil die vroue aanmoedig, volgende Saterdagoggend gryp die fiets en die vryheid, gaan ry ’n paar lang draaie, as die telefoon lui so voor twaalfuur vra net hoe laat die kos gaan reg wees en of die huis al skoon is.
Ek is in die gelukkige posisie dat ek en my vrou fietsrymaatjies is, en ons het nie ’n grasperk nie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*