Die bike shop “issue”

Die GROOT LEM wonder hierdie maand hoekom party mense so sensitief is as jy dalk net per ongeluk by ’n ander fietswinkel as jou “gewone” een inloop.

 

Daar is glo twee goed waaroor jy nie moet of mag praat op ’n braai nie, die een is politiek, die ander is godsdiens. Daardie twee gevaarlike goed verdeel ook ’n dorp of gemeenskap in twee of meer, afhangende van hoeveel daarvan in die dorp is. Daar is egter ’n derde, meer gevaarliker ding wat jou baie vinnig ’n klomp vyande kan gee en maak dat ’n klomp mense nie meer met jou gaan wil praat nie. En dis fietswinkels! Dis net ongelooflik, ek kan een dag groceries koop by Pick ’n Pay, volgende dag Checkers, en Woensdag by die Spar om die hoek. Niemand kyk my skeef aan nie. Niemand vra my hoekom of wanneer ek nou besluit het om van koswinkel te verander nie. Maar genade tog, loop nou net by die verkeerde fietswinkel in … eers word jy aangekyk met absolute verbasing dat die eienaar van die “nuwe” winkel amper nie ’n woord kan uitkry nie. Of hy dink jy is ’n spioen (spy) wat gestuur is om geheime intelligensie-FBI-goed te kom uitvind. As jy uitloop moet jy amper soos ’n celebrity op ’n eiland ’n keppie dra en afkyk want die verkeerde persoon ry dalk verby en dis nag, jy sal nooit weer na jou “ou winkel” kan teruggaan nie. Ek weet van jong ryers wat al deur hul afrigter gefire was omdat hulle in die verkeerde winkel ingeloop het, grootmense wat vir hul kinders belet het om by ’n sekere fietswinkel in te loop en baie ander stupid goed. Ek stem heeltemal saam met verhoudings opbou met sekere van jou service providers, dit hou voordele in beide kante toe. Die winkelmense leer ken jou kar of fiets of hare. Die dames onder ons gaan nie elke maand by ’n ander wildvreemde hairdresser instap nie. Sekere ouens hou daarvan om hul vleis by ’n spesifieke slaghuis te koop. Lojaliteit is great. So jy diens jou kar of fiets op ’n spesifieke plek. Maar op ’n dag maak daar ’n plek oop met beter diens, nader aan jou huis, lekker parkering en jy besluit om hulle uit te probeer. Of, soos wat nou baie gebeur na price fixing bietjie onwettig is, het iemand ’n hengse special en jy kan iets teen helfte van die prys by die “kompetisie” gaan koop. Nou watse stupid persoon gaan dubbel vir iets betaal as dit nie nodig is nie? So ja, wees lojaal, koop plaaslik, maar ons het seker die reg om by enige fietswinkel in te loop op enige dag. Almal moet dalk ‘n “chillpil” vat en nie maak of ’n fietswinkel ’n kerk of ’n politieke party is nie. En as ’n sekere fietswinkel ’n groot special het, hoekom is almal kwaad vir hom? En net soos ek seker nie met ’n DA t-shirt na ’n ANCvergadering gaan mag ek mos ook nie met die anner winkel se fietstop in jou winkel inloop nie? Of hoe praat ek nou, is julle dorp of fietsryklub dieselfde? Is jy dapper genoeg om by enige winkel in te loop of om enige “brand” fiets te ry?

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*