Die Groot Lem: ’N Onderhoud Met – Jennie Stenerhag

Na ’n kort afwesigheid is die veel beroemde HENDRIK ‘GROOT LEM’ LEMMER terug op ons blaaie. Hy het onlangs ’n onderhoud gevoer met Jennie Stenerhag om uit te vind hoe haar 2018 verloop het.

Q: Hallo Jennie, vertel vir ons van 2018, of moet ek liewer nie vra nie?

Hendrik, ek het baie goed gevoel aan die begin van die jaar, maar van Februarie het dit slegter en slegter gegaan. My Epic partner Esther Suss (nie Full Sus) het by Tankwa geval, ek moes begin rondkyk en vra na ’n nuwe Epic partner, toe val ek twee weke voor die Epic met groot beserings waar ek my hamstring afgeskeur het en Esther begin toe van haar ongeluk herstel en sy begin vir ’n partner soek. Ek het ’n groot operasie gehad om die spier weer te heg en ek sou volgens die dokter eers na ses maande weer kon race. Die herstel het goed gegaan en na vier maande het ek weer aan wedrenne begin deelneem. Ek was toe in Swede, het wonder bo wonder ook die Sweedse marathonkampioen-skappe gewen. Maar dit lyk asof ek dalk te vinnig begin het vir my been en as ’n precaution het ek dit toe weer rustig gevat die laaste paar maande. Nou fokus ek op volgende jaar en hoop om weer te ry soos ek weet ek kan.

Q: Ek sien jy ry nou ’n nuwe fiets … is daar baie ander veranderinge vir 2019 en gaan jy nog my “biervrou” wees?

Ek ry nou ook ’n Silverback soos jy, so as jy vinniger raak en ek stadiger kan ons dalk spanmaats wees? Ek gaan steeds jou buurvrou wees, oor die bierborg sal jy maar moet wag en sien tot 1 Januarie. Daar sal ook binnekort ’n aankondiging oor my nuwe Epic partner wees.

 

Q: Jy het meer as 10 jaar gelede in Stellenbosch begin vir die somers en om die koue Sweedse winters te ontsnap. Ek onthou jy het in ’n kamertjie in my woonbuurt gewoon, lifts gekry na die local padraces; jy was toe nog ’n roadie. Nou het jy ’n kar en ’n huis – lyk of die switch van pad na berg en Suid-Afrika jou goed gedoen het?

Ek het in Januarie 2004 vir die eerste keer die Kaapse somer kom geniet en heeltemal verlief op die mooi land en sy mense geraak. Min mense weet dat ek ’n volunteer was op die heel eerste Cape Epic in 2004. Ek het so baie gehou van wat ek gesien het, dat ek in in 2005 die Epic kom ry het! Na die Epic het ek besluit om liewer op padwedrenne te konsentreer, in 2009 het ek al bietjie beter gery en die Cape Argus sowel as die Sweedse Padry-titel gewen.

 

Q: So wanneer het jy nou begin ernstig bergfiets ry?

In 2012 het ’n vriend my gevra om Jhberg2Sea te ry, dit was amazing, die plaaslike padfietsry-toneel het ook begin kleiner word en ek voltyds begin mountain bike ry. Aan die begin van 2014 het Cape Brewing Company my begin ondersteun en ek kon dit meer voltyds doen.

 

Q: Is jy n alkolis of hoekom het ’n bierplek jou begin borg?

CBC het ook ’n Sweedse konneksie, ek gee my biere maar vir my buurman as hy vir my braai na ’n harde race. Hy kan dalk ’n alkolis wees.

Q: Jou lewe lyk taamlik uitgesort, wat mis jy nog? Babas, familie in Swede, troeteldier?

Ek is seker veronderstel om te antwoord ek mis my familie in Swede, maar ek sal baaaie graag ’n hond wil hê. Gelukkig het my buurman ’n great hond wat amper soos myne voel en hy (die hond, nie die buurman) kom kuier gereeld vir my.

 

Q: Dit begin reën op ’n stage race, wie sit jy binne in die tent. Jou partner of jou fiets?

Ek bly nou in gastehuise, het te veel jare in tente geslaap, so ek bly nie meer in tente nie.

 

Q: Drink jy al die wyn wat jy in die seisoen wen in jou afseisoen, of is dit Kersfeespresente?

Ek wen genoeg wyn om my deur die hele afseisoen se naweke te hou, en dis Kerspresente vir my vriende en familie wat goeie wyn waardeer. Dan drink my buurman ook geweldig baie.

 

Q: Home is where the heart is. Waar is jou huis?

Ek is gelukkig om twee huise te hê, en ek hou van beide, albei is spesiaal. Stellenbosch is meer MY eie huis met my lewe nou, maar in Swede met my ouers is ook huis, daar waar ek groot geword het en ek sal altyd teruggaan.

 

Q: Jou nuwe Silverback lyk baie skoon. Was jy jou eie fiets?

Ek is gelukkig genoeg om n in-house masseuse en fietswasser te hê en ek gaan hom nie keer nie, want hy was ’n fiets baie beter as ek.

 

Q: Chocolate of ’n braai?

Chocolate na die braai 🙂

 

Q: Het jy al ooit ’n Springbokrugby-game gekyk?

Nee, nog nooit nie.

 

Q: Hoeveel punte tel ’n drie in rugby?

Ek het geen idee nie, seker maar drie punte?

 

Q: Hoekom woon jy op Stellenbosch?

Dis die beste plek in die wêreld vir bergfietsry, son, mooi natuurskoon en fietspaaie. In vergelyking met die res van die wêreld is ons regtig spoiled met al die ongelooflike roetes.

 

Q: 2019 is om die draai … watse doelwitte, wense, planne het Jennie Stenerhag?

Dit kan net beter wees as 2018, hopelik so goed soos 2017, so hopelik wen ek meer wyn as in 2018 en ek staan weer op ’n boonste trappie op die podium.

 

Baie dankie Jennie.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*