Die Groot Lem

DIE GROOT LEM: WATTER SPORT IS DIT DIE?

  1 month ago

45fs_grootlemHendrik ‘Groot Lem’ Lemmer vertel ons van sy dae as pioneer van die plaaslike sport van bergfiets ry.

Toe ek in die laat 80’s begin het met die nuwe sport waar ons met geratte dikwiele op grondpaaie begin rondry het, bel een van die Afrikaanse vrouetydskrifte my vir ’n onderhoud. Dit moes seker Sarie of Rooi Rose gewees het, en die artikel gaan toe oor nuwe sportsoorte wat Suid-Afrikaanse mans doen. As ek reg onthou was twee van die sporte, bergfietsry en windsurfing.

Ek onthou die girl wat my kom interview vra toe “Hoekom doen julle dit?” Ek verduidelik toe dat ek toe al ’n hele paar jaar kompeterend pad en baanfietsry doen en dat hierdie nuwe sport vir my en my makkers die geleentheid gee om in die natuur en op plekke fiets te ry waar ons nog nooit kon ry nie. So op Stellenbosch was van ons gewilde roetes op Papegaaiskop aan die westekant van die dorp, en Botmaskop aan die teenoorgestelde kant. Ons het vinnig so ’n 20 of 30 mense bymekaar gehad wat mekaar na werk kry om te gaan rondspeel en verken op ons nuwe fietse. Daai dae was daar geen voor- of agter-skokbrekers, ons het met ’n hiking tipe tekkie wat ’n stywer sool as ’n gewone tekkie gehad het, bergfiets gery. Dit was FUN! Heel moontlik ’n bietjie soos trail run ’n paar jaar gelede was.

Nieteenstaande geen skokbrekers, dunner en harder gepompte bande, fietse wat te groot was, het ons nie geboude, gebermde, skoongeveegde, gemanicurde trails gehad nie. Die sport se naam was nie trail riding nie, dit was mountain biking!

Die G spot was nie ’n plek waar jy gaan fietsry het nie.

Ek hoor nou die dag dat ’n baie bekende skofwedren in hierdie land gebel word deur ’n deelnemer as daar ’n klip iewers op n single track is, dieselfde mense, wat ’n great event aanbied, gebruik glo ’n ‘leaveblower’ om single tracks skoon te blaas.

Dis seker hoekom events soos Lesotho Sky, Attakwas en ander wat gebruik wat die natuur vir ons bied en nie hierdie gemanicurede tracks nie ook ’n gewildheid het juis omdat dit hard en natuurlik is. En dan is die grênd events se chill zones, etes, drankies beter as op meeste bruilofte. Is dit regtig waarnatoe die sport op pad is? Die kompetisie tussen events het nou so groot geraak, en die volgende ou se berms en chill zone is netjieser as die vorige ou s’n.

Dalk moet ons bietjie terugstaan en dink waar dit begin het, en dan ry ons sommer ook as die wind waai en die tracks verspoel is.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek love ook nice geboude singletracks en ’n lekker yskoue bier na my ry, maar is ons nie besig om die siel en karakter van bergfietsry te verkoop aan mense met dik kredietkaarte en die nuutste model fiets en grêndste kar nie?

Wie join my op ’n naweek waar ons die ongerepte dele van die land op ons fietse gaan verken op soek na ’n berg wat ons kan op, soos aan die begin?


    Share: