Die Opstel Van Doelwitte

Iets wat my al lank pla is hierdie “well done” en “so proud of you”, veral op sosiale media as ons fietsryers iewers deelneem. Indien ek waag om iets te vra oor die performance is daar sommer groot moeilikheid. En as ek waag om voor die tyd te comment, hoop jy finish, word daar gevra of ek nie net trots kan wees nie. Waarop moet ek trots wees? Jy kan tog eers beoordeel word na jou wedren. Dan sal ek besluit of ek ook trots is op jou prestasie. Seg ons vir ons kinders as hulle ’n toets op skool druip dat ons trots is op hulle?

En dis op enige vlak van kompetisie maar ek gaan as voorbeelde SA ryers wat internasionaal deelneem gebruik. Laat ek verduidelik…

Nino Schurter gaan na die Wêreldkampioenskappe of Olimpiese Spele om te WEN! Net soos Chris Froome, Usian Bolt en ander sterre in hul sporte. Ek raai daar is by n cross country Worlds seker so tussen drie en vyf ryers wat  ’n realistiese doelwit kan hê om te wen. Dan is daar ’n groep van seker 20 tot 30 wat hoop op ’n top 10. Daar is ook ’n groep wat hoop om nie “gelap” te word nie, wat vir hulle ’n groot prestasie sal wees. En ander wat net bly is om deel te kan neem; ek sou een van daai gewees het, want ek was ’n goeie ryer op provinsiale en nasionale vlak, maar sou heeltemal uit my diepte gewees het in internasionale kompetisie; ek en hulle het geen kans op enige noemenswaardige prestasie oorsee nie.

Wat my ontstel is dat dit nie saak maak hoe iemand presteer het nie, dis net well done, amazing, bla bla bla as Suid-Afrikaanse ryers terugkom van kompetisies. Ek kan julle verseker dat indien Schurter nie ’n medalje wen nie, hy uiters teleurgesteld sal wees omdat hy nie sy eie doelwit bereik het nie. Maar ’n volgende ryer, sê nou maar James Reid, sou ecstatic gewees het indien hy ’n top 10 tydens die Olimpiese Spele gekry het. So vir Schurter kan ek nie prys oor ’n vierde en well done uitskree nie, want hy het onderpresteer, maar vir Reid kan ek, want hy het bo sy vermoëns presteer met dieselfde resultaat.

Dis hoekom ek soms op ’n diplomatiese manier probeer hoor wat die doelwit is sodat ek na die wedren weet of die doelwit behaal is of nie. En ek wil graag weet, want ek stel belang.

Ons bekende vroue-padryer het omtrent 10e gekom in Rio na ek glo ’n medalje die doelwit was. Ek was teleurgesteld en het gewonder wat verkeerd gegaan het. Maar moenie dit waag vra nie. Ons mans-padryer het ’n sewende plek gekry na ’n agtste in die Tour de France, wat volgens my ’n ongelooflike prestasies was  en ek glo ’n top 10 was die doelwit wat behaal is. Well done!

Ek glo dat solank as wat ons aanhou om gemiddelde tot swak of onder-prestasies se lof te gaan besing, ons ryers gemiddeld tot swak en onder gaan presteer. Hoekom juig ons asseblief nie oor goeie prestasies, goeie vordering met ’n opwaartse kurwe, doelwitte wat bereik is en vra vrae oor swak prestasies waar doelwitte nie behaal is nie. Ek ken heelwat fietsryers persoonlik goed en het self ’n bietjie gery. Ek het al amper aan die huil gegaan oor n tweede plek, maar was ook al ongelooflik trots op n sesde plek. Moenie vir my gelukwens met ’n tweede as ek wou of behoort te gewen het nie. Maar dankie vir die gelukwense toe ek en my vrou onlangs die Transalp se laaste skof in laaste plek klaargemaak het. Ons doelwit was om klaar te maak.

Ek sou baie graag wil hê dat ons ryers op ’n manier vir die publiek insae kan gee oor hul doelwitte sodat ek weet of ek ’n well done kan gee na die tyd of net stil moet bly.

Ek probeer regtig nie ryers afbreek nie, maar opbou. As ons ’n Springbok-rugbyspan as useless en ’n Protea-krieketspan  chokers kan noem, hoekom is ons so bang om vir ons fietsryers eerlik te seg wat ons dink van hul prestasies. So aan my volgende vriende het ek ’n well done boodskap gestuur. My buurvrou Jennie wat weer die Sweedse marathon-kampioen is. My goeie vriendin Ariane wat weer die Epic kon wen en ’n top vyf by Worlds gekry het.

En ’n “wat het verkeerd gegaan?” aan my pel Erik by Transalp en Pioneer, my buurvrou Jennie by Berg ’n Bush waar sy tweede was en myself elke keer as my vrou my drop op ’n bult.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*