Die Winter is nie vir Fietsry -nie

Hendrik Lemmer sê hy ry nie in die winter nie, behalwe as dit somerweer in die winter is. Of, soos twee jaar gelede, toe hy besluit om in die Noordelike halfrond te gaan ry.

In die Noordelike halfrond is dit mos Somer as ons Winter het. Of so het ek gedink.

Die storie begin so… Op die ryp ouderdom van omtrent 50 gaan trou ek met ʼn mooi vrou wat kan fietsry en ons besluit dat ons vir ʼn honeymoon die Europese ekwivalent van die Epic, die TransAlp gaan ry. Dit vind jaarliks plaas tydens ons winter (Julie), so ons ry en stoot toe (ons fietse) van Oberammergau in Duitsland tot by Riva del Garde in Italië oor elke moontlike bergpas wat hulle kon vind.

Hulle het ( hul fietse) baie gestoot.
Hulle het ( hul fietse) baie gestoot.

Daar in die kamstige Europese somer het ons op twee dae kouer en natter gekry as ooit tevore en dit sluit enige fietsryery of honeymoonery in.

Sodra jy bokant 2000 meter bo seevlak in die reën rondstaan en wag by ʼn bottelnek met ʼn klomp fietsryers is daar probleme. Op een dag staan ons vir 45 minute en wag dat ʼn duisend mense (ja ons het weer die agterste posisies gecover) een vir een oor ’n boomstomp klim. Ek kyk diep in my vrou se oë om seker te maak sy is ok en ʼn uur later toe ons uit die berg is stop die ambulansmense elke ryer en kyk ook diep in hul oë om seker te maak hulle is nog by. Dan was jy of ingelaai in ʼn Duitse ambulans of jy is een van die silwer rescue blankets gegee om onder jou nat fietsryklere te sit.

Daai mense ken van ry in die reen.
Daai mense ken van ry in die reen.

Op die laaste skof het ons van die begin reën gehad dat ek dog Italië gaan wegspoel. Daar is niks van roetes verander of wedren stop nie. Daai mense ken van ry in die reën (of hulle is dom). Bo-op die berg wag noodhulpmense weer met rescue blankets sodat jy darem kan afgaan want sodra die spoed optel van stootspoed na freewheel spoed verander jou liggaamstemperatuur baie vinnig. Basies van baie koud na f*kin koud. En net daarna begin die ander drama wat meer by laas maand se Full Sus topic pas, naamlik technical. My remme is klaar, voor en agter, soos in niks. So dit reën en dis koud, ek stoot die helfte van my honeymoon die berge uit, nou stoot ek ook die afdraendes. Ek hardloop, freewheel, hou vas aan die sweeper poeliesman op sy fiets vir die laaste 40 kilometer, want as jy ʼn pas in die Alpe sonder remme afgaan tel hulle jou in Moskou of China op. Ons kom koud en nat, en heel laaste by die eindpunt in Riva uit. Maar team “Honeymoon From Africa” het wel verdiende finisher-hemde gekry.

Soo lyk mens as jy n 'rescue blanket' nodig het.
Soo lyk mens as jy n ‘rescue blanket’ nodig het.

Nooit weer trust ek die Europeërs wat my vertel dis somer by hulle as dit by ons winter is nie. En nooit weer kry ek so ʼn stupid idee vir ʼn honeymoon nie.

So my winter fietsry-advies is eenvoudig. Ry net as die son skyn, drink rooiwyn, steek die kaggel aan (en as jy nie ʼn kaggel het nie, iets anders), gaan doen interessante ander goed met jou familie wat die res van die jaar seker by die huis sit terwyl jy fietsry, tel bietjie gewig op sodat jy na die winter die [Rival publication’s name deleted on advice from the Full Sus layers] kan koop om te lees hoe jy gewig kan verloor vir die Argus.

Maar dis mooi!
Maar dis mooi!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*