GRYP JOU FIETS EN “CROSS THE COUNTRY”

HENDRIK ‘GROOT LEM’ LEMMER vertel ons hierdie maand van sy tipe “cross country”. Hy verkies die toer- en verken deel veel meer.

Die maand se topic verstaan ek nie lekker nie. Dis glo cross country. Nou as ek dit vertaal kom ek NIE uit by ’n klomp mense wat om en om en om dieselfde klein roetetjie naby hulle huise ry nie. Vir my klink dit meer soos – pak die kar, laai die fietse en gaan ry oraloor die land. Of, pak die sakke op die fietse en begin net ry, soos byvoorbeeld die nuwe toerroete van Kevin Evans se dorp tot by myne.

Ons het soveel ongelooflike berge, natuurskoon, roetes om op fietse te ry dat jy regtig nie net rondom die Spur of jou huis in ’n bondel moet jaag nie. Wat ook baie gewild raak is die gravelbike-toere in die Karoo met ’n ou wat kan braai, of vat sommer die trein tot op Matjiesfontein, slaap in die Spookhotel, die Lord Milner en vat ’n toer Sutherland se kant toe om te gaan sterre kyk. Ek en my ander helfte doen hierdie tipe cross country, nie die soort wat julle in die res van die uitgawe lees nie. Omdat ons in Stellenbosch so gespoil is met ongelooflike roetes aan alle kante van ons mooi dorp skryf ons nie vir baie events in nie. Wanneer ons ’n race sal gaan ry is wanneer dit op ’n plek is wat ons nog nie ontdek het of nie gewoonlik by sal kan ry nie.

Om ’n idee te gee van wat ons onlangs gedoen het en die cross countries wat ons beplan vir 2018 … Ons het middel-Desember saam met ’n klomp ander stadige Stellenbossers in die Robertson Bonnievale-omgewing gaan ry vir drie dae. Net lekker rustig ry, gesels, wyn drink en braai in die aande. Begin Januarie is ons eers vir twee dae na die De Hoop-natuurreservaat nabyBredasdorp en van daar vir drie dae na Stanford net langsaan Hermanus waar ons ’n plekkie op die rivier-oewer gekry het en van daar ons fietse gery het. Een dag het ons die locals gejoin en die lekker roetes by Beloftebos gaan ry waar die naweek van 17 Februarie se jaarlikse Stanford Mountain Bike Classic is.

Dis altyd ’n goeie idee om te hoor waar die locals ry. Ons het byvoorbeeld verlede jaar vir ’n langnaweek by ’n hotel in Montagu ingeboek en by die toeristekantoor gaan uitvind waar die bergfietsroetes is en alte lekker daar rond gery. Kombineer die cross country met lekker kuier, ontspan en nooi dalk ’n pel of twee saam. Ons is nou amper kwartpad met 2018 so watse cross countries beplan ons die jaar … Elke jaar kies ons ten minste een harderige stage race om te gaan ry, dis net sodat ek gemotiveerd is om so half te oefen dat ek nie te dik raak nie.

Hierdie jaar is dit die ongelooflike Lesotho Sky wat ons ook twee jaar gelede gesuffer het. (Ek dink elke klip wat hulle by W2W of S2C se singletracks uithaal word opgevlieg Lesotho toe en daar gepak.) Ons beplan sommer ’n maand van cross country en gaan kyk of ons met die Lesotho-trippie ’n draai kan maak by ander plekke waar ons nog nie gery het nie. As die Bitcoin-skip inkom (die Steinhoff een het gesink) kyk ons dalk of ons ander events soos Swazi Frontier, Lormar Endurance, Berg ’n Bush kan inpas.

Dis mos nou cross country, nie die flat-out race vir ’n uur en nog jou gat los val in die proses nie. Gaan ontdek ons mooi land op ’n lekker stadige spoed, my tipe cross country.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*