Kinders en fietse… en die Olimpiese Spele

Na aanleiding van ons fietsryprestasies by die Rio Olimpiese Spele waar ons nie enige medaljes gewen het nie, het Hendrik Lemmer gedink en gewonner, nog ʼn glasie rooiwyn geskink en meer gedink.

Waar is ons medaljes, en hoekom doen sekere lande beter as ander? Vir ʼn oomblik gaan ek wegbly van die wetenskap want ek is glo te ‘old school’ om iets daarvan te verstaan. Ek wil eerder kyk na twee suksesvolle fietsrylande en of kinders dalk ʼn rol kon speel. ʼn Fiets is menige kind se eerste groot present. Dit begin met ʼn driewiel wat amper ʼn baanfiets is of een van daai swart plastiek motorbikes. Die volgende stap is jou “groot fiets” met sywieletjies en die eerste fietsrylesse begin. Dit bring my by my eerste top fietsryland.

Die beste fietsryland in bergfiets ‘cross country’ is seer sekerlik die Switsers. Op een wêreldkampioenskap waar drie jong Switsers die hele junior podium vol gestaan het, vra ’n joernalis vir die vorige groot Switserse cross-country legende Thomas Frishknecht, (dis nou voor Sauser) hoe so ’n klein landjie dit regkry om so goed te doen. Sy antwoord was basies: “In our country kids play on their bikes.” Nou in Suid-Afrika speel ons ook op ons fietse, tot ons skool toe gaan maar dan raak ons mos baie ernstig oor prestasie in skolesport. In Suid-Afrika ry elke tweede pa ʼn Epic of ander stage race en sleep vir klein Jannie saam. Nou een van die beste en slegste goed in ons mooi land is al die wonnerlike stage races waarvoor almal vir ʼn vale tyd in die saal spandeer. Maar moet asseblief nie vir klein Jannie van 13 saamsleep vir ses ure Jonkershoek toe nie. Laat eerder dat Jannie speel op sy fiets.

Laat eerder dat Jannie speel op sy fiets saam met sy vriende.
Laat eerder dat Jannie speel op sy fiets saam met sy vriende.

Daar is ook fantastiese goed wat nog vrugte (lees medaljes) gaan oplewer soos byvoorbeeld die Spur skole ‘cross country’ reeks. Honderde kinders word blootgestel aan kort, vinnige, hopelik ietwat tegniese ryery waar hulle hul skool verteenwoordig. Jy ry fiets vir jou skool, kry erekleure vir bergfietsry en dit word by baie skole nou ʼn erkende sport. Dan kan munisipaliteite, raadslede in woonbuurtes, ontwikkelaars en beplanners met oop ruimtes ook maklik ʼn tipe, BMX of kort cross country baan skep. ʼn Voorbeeld is so ʼn baan onder in my straat langs die nuwe Specialized-winkel en by Conrad Stoltz se Caveman Café waar hulle van tyd tot tyd wedrenne rondom die winkel hou. Dis iets wat oral kan plaasvind.

So die punt is “Let the kids play on their bikes.”

Die volgende land wat ek as voorbeeld wil gebruik is Nederland, die geboorteland van my vrou. Nou dis ook ʼn klein landjie net soos Switserland, maar hulle het weer die wêreld se beste vroue-padfietsryers.

Soos wat julle weet is daar meer fietse as mense in Holland, en in Amsterdam is die verkeersknope nie karre nie maar Hollanders op fietse. Babas en groceries word rondgery in Bakfietse, kinders ry skool toe op fietse, grootmense ry werk toe en ou mense gaan koop nog kaas op die fiets. Hulle is gewoond aan ry in bondels en op nou paaie, tussen trems en baie ander fietse. Daardie bevolking ry basies bondelwedrenne en kermesses (rondom-die-blok-padwedrenne) vandat hulle gebore word. In Suid-Afrika kan jy die Argus wen en jy het omtrent net om drie draaie op ʼn lekker breë pad gegaan.

Wedrenne moet pret wees.
Wedrenne moet pret wees.

Maar wat gebeur in Suid=Afrika? Hier word Jannie met die kar rondgery skool toe; sy 29er staan in die garage tot hy sy afrigter na skool gaan sien. En as Jannie die ryp ouderdom van 18 slaan kry hy ’n learners en ʼn karretjie. Kom ons kyk waar dit moontlik is om fietsry ʼn gewone, vir almal, alledaagse aktiwiteit te maak. Ek glo as ons ’n Ry-jou-Fiets-kultuur en ’n Speel-op-Fiets-kultuur kan aankweek wen ons ʼn paar medaljes oor ʼn paar jaar. In beide my voorbeelde van top fietsrylande (sonder die Engelse se Wetenskap en pille) lyk dit dan vir my of dit basies neerkom op skills wat aangeleer word deur elke dag die gewone goed te doen en ’n bietjie minder high performance, grend fietse en lycra.

Ry jou fiets en ʼn speel op jou fiets.

Ek weet daar is baie ander probleme soos te min geld vir plaaslike ‘cross country’ ryers asook te min kompetisie in Suid-Afrika, maar ons moet ʼn basis begin bou. Bou dit van jongs af en bou dit groter, breër en lekkerder.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*