Krag- Lag

Words: Hendrik Lemmer

Dertig jaar is ’n baie lang tyd in fietsry, vandat ons in 1989, 1990 rond begin cross countries jaag met oversize rame, undersize wiele waarvan die bande te hard gepomp was, geen voor of agter suspensie.

Tot nou, die laaste week van Augustus 2019, waar wat 30 jaar gelede onmoontlik was, ons ’n Wêreldkampioen op ’n e-bike het. Ek het in my koffie verstik, maar gelukkig het my vrou my kalmeer en verduidelik dat ek nou uiteindelik dalk ook aan Wêreldkampioenskappe sal kan deelneem. Soos Lance nie geseg het nie, “it’s all about the bicycle”.

As ek bicycle Google in die Engelse taal kry ek onder andere die volgende: “The legal definition of a bicycle is a muscle-propelled two wheeled vehicle.” Sonder EPO, steroids, masjiene, batterye of enige ander eksterne hulp. Julle moet my verskoon, ek is nou ook meer as dubbel die ouderdom wat ek was toe ons met mountain biking begin het, en julle weet hoe is ou mense. Vol stront! As julle oor nog 30 jaar met remotes vanuit jul woonkamer teen Valverde in die Tour de France race, sal van julle dieselfde voel.

Toe ek dus laas maand sien dat ons ’n e-bike wêreldkampioen het, met die amptelike Rainbow Jersey van die UCI wat jou lewenslank sal skors as hulle jou vang met een in die Tour de France, het ek negatief daarop reageer op my @grootlem twitter. Ek het ’n paar mense gekry wat my aangevat het. Ek het toe, soos gewoonlik, ’n bottel wyn oopgemaak en bietjie gaan dink en probeer verstaan wat in die wêreld van fietsry aangaan. Ek is absoluut geensins teen e-bikes nie, ek dink dis wonderlik dat lui mense, ou mense, siek mense, vet mense, mense wat Stravas wil wen, mense wat werk toe ry met die fiets, maar daar is ’n moerse bult, mense wat wêreldkamp … (ok ek stop liewer) op ’n fiets is in plaas van voor die TV sit of in ’n kar is. En die ergste van alles is as hulle Strava Koning van die Berge steel op hulle e-bikes. Daai ouens behoort eintlik in die Buffalo-kategorie. Dis erger as EPO.

Ek verstaan ook dat pro ryers dit kan gebruik vir oefening (jy kan dieselfde downhills meer oefen sonder om jou in jou moer te ry teen opdraandes), ek verstaan ook dat mensewat in daai vorige kategorieë val dalk ’n tawwe event of so wil doen. Daar kan dan ’n aparte kategorie vir daai mense wees. Apart, nè, nie soos my slegte stage race ervaring onlangs waar ’n e-bike-span ’n ander span help nie!

Soos ek nou hier sit, ’n paar weke voor julle die storie lees, is ek amper op pad lughawe toe, ek en my ander
gelyke helfte vlieg Spanje toe, Bilbao om meer spesifiek te wees. Ons kry daar huurfietse met panniers en die plan is om so 600km aan die noorde van Spanje te ry, so al op een van die Camino-roetes en hopelik op ’n kol paaie te kruis met die Toer van Spanje waar ek vir ons vie manne Willie, Louis, Nicholas en Jaco gaan cheer. Die deel waar ons gaan ry het baie bulte en berge, en die fietse gaan seker 30kg swaar wees met die bagasie. Al wat ek wil hê as ek weer op so ’n toer gaan is ’n e-bike asseblief!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*