Ons kinders het helde nodig

Die eerste helde wat ek kan onthou van my laerskooldae in ’n Afrikaanse skool gedurende die 70’s was Wolraad Woltemade se perd wat ’n klomp mense van ’n skip gered het wat aan die Kaap van Storms gestrand het. Die ander een wat ’n groot indruk op my gemaak het was Racheltjie de Beer wat haar boetie teen die koue sneeu beskerm het deur of haar klere uit te trek, of haar kombers vir hom te gegee het, ek kan nie die feite lekker onthou nie.

My eerste sporthelde in die middel 70’s toe ek aan die einde van my laerskoolloopbaan staan was fietsryers in my klub hier op Stellenbosch soos Hans Degenaar en Wimpie van der Merwe met wie ek saam kon oefen en nooit baie ver bygehou het nie. Maar ons was op dieselfde pad of baan op dieselfde tyd en net om in hul geselskap te kon fietsry het ’n groot indruk op my gemaak. ’n Paar jaar gelede is ek by ’n akademiese prysuitdeling van die bekende Paul Roos Gimnasium-skool waar een van my slim seuns ’n wiskunde-prys ontvang het. Hulle vra toe vir die top 10 akademiese ouens wie hul helde was. Een van die akademiese manne antwoord toe: Burry Stander. Ek was verbaas aangesien Stellenbosch en Paul Roos meer ’n rugbyplek as ’n fietsryplek is. Maar dit was ook in die tyd toe die skool begin fietsryspanne inskryf het vir die Spur-liga en erekleure toegeken was aan fietsryers wat die skool
verteenwoordig. En daar is nou letterlik honderde seuns en dogters wat bergfietsresiese ry in die Stellenbosch-omgewing.

Een van die redes is dat hulle ’n held soos Burry gehad het. ’n Held wat dit gemaak het deur medaljes op die Wêreldkampioenskappe te gewen het. En sodra dit gebeur sien kinders dis moontlik om dit te maak tot op die podium van ’n Wereldkampioenskap. Na Burry het ons nie regtig ’n plaaslike held vir die bergfietskinders gehad nie. Tot so ’n paar naweke gelede by die Wêreldkampioenskappe waar alles verander het. Daar ry ’n jong Suid-Afrikaner, Alan Hatherley toe ’n silwermedalje los in die o.23 Cross Country, dieselfde kompetisie waar Burry ’n paar jaar tevore sukses behaal het. In die padfiets-omgewing het ons laities nou ook ’n held met die naam van Louis Meintjes. Ek het gedroom van die dag wat ’n Suid Afrikaner ’n top 10 in ’n Tour de France losry, ek het nie gedog dit gaan so skielik en vinnig gebeur nie. Louis het dit nou twee keer voor die ouderdom van 25 gedoen! Ek wil vir Alan Hatherley en Louis Meintjes bedank dat, met hul sukses, hulle nou helde is vir jong Suid-Afrikaanse fietsryers en dat weens hul prestasies kinders kan sien dat drome waar kan word

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*