PHILADELPHIA MTB- ‘N LANG DAG IN DIE SAAL

Die vyfde jaarlikse Fair Cape Dairies Philadelphia MTB het op 1 April in die pragtige klein dorpie langs die N7 plaasgevind. Met meer as ’n 1 000 inskrywings is die dag goed ondersteun deur die publiek. Full Sus-redakteur, Frans le Roux het die lang 76km roete aangedurf.

Ek het soos gewoonlik weer te laat wakker geskrik en besluit om drie dae voor die Philadelphia resies in te skryf. Met ’n 13km, 39km en ’n lang 76km opsie het ek maar my trots gesluk en ter wille van ons duisende lesers die langste roete gekies.

Die Vrydag voor die resies het daar goeie reën uitgesak oor die Kaap en na ’n gesprek met die organiseerders het hulle genoem dat ’n bietjie reën die dag en die roetes sal goed doen. Saterdagoggend het ek vroeg reeds gery na die klein dorpie. Met my motor geparkeer, is daar ’n digte misbank wat oor die dorp lê. Die lang roete se deelnemers is eerste losgelaat en die sogenaamde ‘racing snakes’ het hul speke behoorlik laat sing met die 07:30 wegspring.

44fs_faircape

Die roete het begin met ’n kort teerpadrit deur die dorp voor ons terug na die R304-hoofweg moes ry. Oor die pad en terug op die grond moes almal maar rustig trap omdat daar ’n redelike klim ’n entjie weg vir ons gewag het. Ek het agter twee gryskop-mans gery wat van die wegspring af sonder ophou gesels het. Op daardie stadium was daar gelukkig geen wind nie en die mis het stadig begin verdwyn. Ons het links gedraai op ’n grondpad en die eerste kort en skerp klim is toe by ons. Die maklikste ratte is gekies en skielik word die vrolike oggendgeselsies gedemp. Die twee mans voor my vroetel steeds met hul ratte en albei word vir die volgende paar minute doodstil.

Ons bereik die bopunt van die eerste klim met die besige N7 sowat 5km ver van ons af. In die vroeë oggendlig sien ek sommer dadelik wat die volgende uitdaging gaan wees, en dit was die steil klim tot bo-op De Hoop. Met heelwat selfoon en radio torings bo-op die koppie, het ryers hier reeds geweet die lang roete is nie grappies nie. As deelnemers reeds op kilo 8 van meer as 70 begin stoot, dan weet almal dit gaan ’n taai dag wees. Sukkel-sukkel kom ons wel bo uit en sonder twyfel was die lyding die moeite werd. Danksy die onbelemmerde uitsig lê die hele Kaapstad en Tafelberg voor jou. Ek kyk na my ritrekenaar en sien dat ons so pas 10km afgelê het in ’n uur. Met ’n glasie koeldrank en ’n sjokolade in my mond is ons weer op pad af.

Vriendelike helpers langs die roete wys verwoed ons moet stadiger ry, want die afdraande is steil en die draaie blind. Blitsvinnig kom ons onder uit en word die krane weer oopgedraai. Vinnig vloeiende plaaspaaie tussen wingerde en koringlande deur is vir die volgende paar kilo’s ons voorland. Sommige deelnemers is weer in ’n beter bui en gesels, by ander loop die gemoedere effens hoog. Daar kom ’n draai na regs, ’n sanderige gedeelte en toe begin die sports. Ons word toe vir seker 10km langs die Dieprivier afgevat. Sand, stof, wind en klippe was hier die uitdagings. Kort-kort moet jy van jou fiets af om vinnig by ’n klim op te stap en dan weer opspring om momentum op te bou vir die volgende stuk. Verder verby nog ’n waterpunt maak die paaie en roete darem weer oop.

Ek en ’n paar deelnemers help toe maar mekaar uit want ’n wind direk van voor was besig om ons pret te bederf. In die verte lê die Loch Lynne plaas met sy Rondebossieberg wat kop uitsteek. Ons het gehoop dat ons eerder om die koppie sal ry as bo-oor. Hier voel ek die roetebeplanners se sin vir humor het opgeraak. Aan Durbanville se kant van die koppie is daar ’n enkelspoor-voetpaadjie uitgekap. So steil dat ek nie een fietsryer hier sien ry het nie. Na sowat 20 minute se stap is ons bo-op die berg met Philadelphia wat in die verte lê en ’n gevaarlike pad teen die berg af. Skaars twee minute later is ons teen ’n simpel spoed weer onder in die vallei. Al hierdie pret het ná 40km gebeur en ek het ook besef ek is diep in die moeilikheid.

Met sowat 35km en reeds amper drie uur in die saal, het ek vroeër die dag gehoop dat my totale tyd drie uur sou wees. Nietemin, het ek maar nog vriende langs die pad gesoek om saam met my te suffer. Ons het verby beeste, skape en op menigte sinkplaatpaaie gery. Ná nog ’n suksesvolle waterpunt agter die rug het ons die R304 weer oorgesteek om langs die Dieprivier terug te ry. Hier het dinge bitter lank gevoel. Die pas was stadig, die geselskap min en die pad sanderig.

Ek en my mede-deelnemers moes vir die volgende uur nog verskeie kere langs ons fietse loop omdat die sand soos poeier was. Al kronkelend langs die droë rivier af het ons kort-kort vir Philadelphia gewaar net om weer weg van hom te ry. Ons was bitter naby aan trane toe ons die 1km bordjie sien. Met ’n laaste vinnige afdraande het ons die dorp binnegery. Met vyf uur in die saal en genoeg stories om hierdie hele uitgawe vol te skryf was ons veilig in die dorp.

Die Fair Cape Dairies Philadelphia MTB-resies is beslis een om aan te pak. Maak egter net doodseker dat jy goed voorbereid is indien jy die lang roete wil doen. Hierdie dag het maar min ‘gratis kilos’ ingehad en deelnemers moes hard werk om dit klaar te kry. Baie dankie aan die organiseerders vir hulle gasvryheid en puik reëlings op die dag.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*