Richmond Outdoor Adventure: ‘n Karoo avontuur

45fs_richmond

Die Karoo is propvol pragtige landskappe en die vriendelikste mense. Die Richmond Outdoor Adventure het aan die einde van April plaasgevind en Maritza de Klerk vertel ons meer.

Die Richmond Outdoor Adventure is ‘n pretvolle naweek en ’n ideale geleentheid vir familie en vriende om dinge saam te doen. Die betekenis van dié mees suidelike Noord-Kaap dorpie, Richmond, is Wyse Beskermer, wat niks anders as die omgewing se natuurskoon en rustigheid uitbeeld nie. Die byeenkoms is bekend vir sy pragtige bergfietsroetes wat verskillende terreine dek van gelyk pad, 4 x 4-roetes, bruggies om die riviere oor te steek tot steil heuwels wat beloon word met pragtige uitsigte van al die bergspitse, karooveld en wildsplase rondom Richmond.

Ryers en ondersteuners is hartlik verwelkom tydens registrasie met heerlike potjiekos en vars gebakte plaasbrode. ’n Groot bruin kardoessakkie, propvol lekker geskenkies, is ook aan elke deelnemer uitgedeel. Daar was enigiets van energie-happies, gesonde lekkernye, gegeurde water om die dors te les, lyfmiddels soos room, salf vir die seer boude, sonroom, asook fietsbenodighede soos kettingolie en bandverseëlaar in. Dit was voorwaard ’n lekker verrassingspakkie!

Dag 1 het aangebreek en die Richmond-gemeenskap was almal so opgewonde en betrokke by dié trotse dorpsgeleentheid dat almal teen die tyd net fietsry geëet, geslaap en gepraat het. Deelnemers is douvoordag begroet met ’n vars Karooluggie en daarmee saam is perfekte weerstoestande vir dié gesinsnaweek besorg. ‘n Totaal van 149 km is afgelê oor twee dae en die vele lekker waterstasies het die uitdagende Karooroetes vining verby laat gaan. Bo en behalwe vir die gewone energie-verversings by die waterpunte, was daar enigiets van vars gebraaide boerewors tot ‘n knertsie Old Brown Sherry vir ekstra skop en krag.

Die kragmeting tussen die voorste manne was taai en uiteindelik was die groep uitgedun na slegs twee ryers. Die kompetisie tussen JP Minnie en Franso Steyn, onderskeidelik van Graaff-Reinet en Wellington, was naelbyt totdat JP sy voorband op die mees ongemaklike plek gesny het. Na vele probeerslae het hy uiteindelik daarin geslaag om weer op die fiets te spring en om weer verder te jaag vir die eindstreep met als wat hy nog in hom gehad het. Franso het die dag met ’n tyd van 02:52:49 gewen, wat hom die algehele voorsprong met amper 4 minute gegee het. Toe Franso sy asem terugkry het hy gesê “dit was nie maklik nie, maar die mooiheid oortref al die moontlike denkbare pyn”. In die vroue-afdeling het Isabella du Preez stof in die ander vrouens se oë gery met ’n tyd van 03:16:03.

Ryers kon daarna hul energie herlaai met ’n heerlike middagete van lampastei of boudvleis en ook ontspan met massering. Plaaslike kosstalletjies met pannekoek, jafels en koffie het ’n feestelike basaar-atmosfeer geskep. Die gaste het ook die geleentheid gehad om die vleistafel te ondersteun, met allerhande vars en gevriesde plaasprodukte van skilpadjies (lewer-en-netvet) tot brandrissie-biltongstokkies.

Dag 2 was natuurlik die groot dag van pret en plesier vir die kinders en ondersteuners. Die bergfietsryers het 08:30 weggespring vir die dag, gevolg deur ’n 21 km halfmarathon, 10 km draf en ’n 5 km prettrap, draf of stap. ’n Rek-en-strek-sessie was gereël om die kindertjies aan die gang te kry, terwyl oupas en oumas met die stootwaentjies en skopfietsies reggestaan het om saam die pretrit te geniet. Die 21 km halfmaraton was onderskeidelik deur Louis van Deventer van Bethlehem en Tinkie Naude van Richmond gewen, met Roux de Clerk en Stefan Steynberg in die tweede en derde plek vir die mans, en Mariet Smit (tweede) en Elise Steynberg (derde) in die vroueafdeling. Die titels vir die 10 km wedloop was ingepalm deur Errol Richard en Deanne Blomerus.

IMG_9250

Dit was ’n naelbyt einde vir die fietsryers en JP Minnie het toe daarin geslaag om net voor die einde weg te breek, maar nie genoeg om die algehele titel op te raap nie. Franso Steyn het koning gekraai by hierdie jaar se Richmond Outdoor Adventure, met JP Minnie in die tweede plek en De Wet Steyn (ook van Wellington) derde. By die dames het die plaaslike Isabella du Preez van Richmond weer haar kop neergesit en volstoom deurgedruk einde toe. Marietjie Lutz van Stellenbosch was tweede en Lize-Mari Giliomee van Bloemfontein, derde. Groot Karoo-pryse was op die spel en wenners is huis toe met pryse soos koedoes, springbokke, sakke vol droëwors, biltong en liters wyn.

Die Richmond Outdoor Adventure se fondse gaan grotendeels vir die gemeenskap en vir elke 21 km of 10 km inskrywing was daar ‘n kombers aan minderbevoorregte mense in die dorp geskenk. Die bestuur is ook nou besig om verdere opknappings vir die dorp se strate en geboue te beplan en is baie opgewonde om dit nog groter en beter te maak vir 2018. Hierdie jaar was weereens bewys dat bergfietsry jou nederig hou en dit bou hegte verhoudings tussen familie, vriende en die gemeenskap. Nuwe opwindende roetes is reeds onder bespreking vir volgende jaar, so kom geniet en ondervind dit self.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*