Ster van môre- Wessel Botha onderhoud

Woorde: Frans le Roux | Fotos: Hayden Brown & Sportograf

Die naam Wessel Botha mag dalk onbekend wees vir die meeste fietsry-entoesiaste in SA, maar die 20 jarige spoedvraat van Team NAD-Pro Specialized het vinnig vir homself ’n naam gemaak.

Q. Bietjie persoonlike agtergrond: Waar is jy gebore, ouderdom, hoe lank ry jy al fiets en trap jou ouers ook?

Ek is gebore in Pretoria en is 20 jaar oud. Ek het my eerste fiets gekry toe ek vyf jaar oud was. Ek het eers begin deelneem aan wedrenne toe ek 14 was en het toe nooit gedink dat ek eendag ‘n professionele fietsryer sou word nie. My pa was blykbaar een van die “eerste MTB-ryers in SA” gewees en spog steeds met sy t-shirt van die Rhodes MTB challenge in die vroeë 90’s. Die laaste paar jaar was hy meer gefokus om my te ondersteun maar ek probeer om hom nou terug op die fiets te kry! My ma is ‘n kunstenaar wat my nog altyd ondersteun langs die baan en by die huis.

 

Q. Waar het jou liefde vir die sport ontstaan? Verkies jy bergfiets of padfiets en hoekom?

My liefde vir fietsry het al vroeg begin met ek en ‘n paar van my vriende wat op laerskool op en af in die straat gery het en na mekaar se huise toe. My eerste wedren was eers op hoërskool en waar ek deel van Menlopark se fietsry-akademie geword het. ‘n Hoogtepunt van my skool-fietrsryloopbaan was toe ek in matriek as die nasionale junior skolekampioen gekroon is. Ek verkies bergfiets 100% teenoor padfiets omdat ek so lief vir die natuur en enkelspoorpaaie is.

 

Q. Baie geluk met jou onlangse wen by W2W, jy en Matt het gekook! Was dit van die begin van die event af jul doel om te wen of hoe het dit gebeur?

Nee, aanvanklik was die plan dat ek saam met Gawie sou ry as backup vir Nico en Matt. Toe Nico vir my twee dae voor die race sê dat ek saam met Matt gaan race was daar definitief ‘n bietjie senuweeagtigheid. Ek het geweet dat my toestand goed was en dat ek reg was, maar dit sou my eerste keer wees wat ek saam met Matt ry en dit was ‘n baie belangrike race vir ons span en sponsors. Ek het net Matt se wiel gehou vir drie dae. Ons het ‘n paar meganiese probleme gehad, maar kon ten spyte daarvan nog steeds wen.

Wessel nadat hy in 2018 die Wines2Whales saam met Matt Beers beklink het.

Q. Jy’t al heelwat tyd op podiums spandeer, wat is die top drie wat uitstaan en hoekom?

  • W2W – Dit is die eerste groot stage race wat ek gewen
    het. Die feit dat ek teen ouens soos Alan en Simon kon meeding wat ek al vir so lank bewonder was awesome.
  • SA Marathon Champs Junior – Dit was die eerste werklike groot race wat ek gewen het en het vir my baie motivering gegee om te sien waarheen fietsry my kan vat.
  • XCO World Cup Stellenbosch – Dit was dalk nie ‘n podiumposisie gewees nie, maar was een van die mees onvergeetlike races wat ek al gedoen het. Die atmosfeer by die race was ongelooflik en met al die Suid-Afrikaners wat vir jou aanmoedig was dit een wat ek nie sal vergeet nie.

 

Q. Watter internasionale event wil jy graag binne die volgende paar jaar doen en hoekom?

Ek wil graag hierdie jaar ‘n paar van die XCO World Cups gaan doen. Ek het nog twee jaar oor in die U23-kategorie en sal graag die beste wil maak daarvan. Ek gaan ook probeer om te kwalifiseer vir XCO wêreldkampioenskappe later in die jaar. Ek het nog nie in Europa deelgeneem nie en sal myself graag wil meet teen die kompetisie daar. Cape Epic is ook ‘n race wat ek in die volgende paar jaar sal wil doen. Dit is op almal se bergfiets bucket list.

 

Q. As jy nie op die fiets of in die gym is nie, waarmee hou jy jouself besig? Stokperdjies?

Ek het ‘n paar skoolfietsryers wat ek coach en bietjie skills training gee wanneer ek ekstra tyd het. Stokperdjies … ek hou van visvang wanneer ons met vakansie in Mosambiek is asook motorfiets ry en uithang met vriende.

 

Q. Jy’s nog bitter jonk, wat wil jy graag in die volgende vyf jaar bereik?

Oor die volgende vyf jaar sal ek definitief myself wil vestig as een van die beste bergfietsryers in SA. Asook om internasionaal te kan meeding op die XCO Wêreldbeker en te probeer om die Cape Epic African jersey te wen. Die groot droom is natuurlik om te kwalifiseer vir die Olimpiese Spele in Tokyo 2020 of alternatiewelik die volgende een.

 

Q. Dit moet seker ongelooflik wees om manne soos Nico, Gawie en Matt in jou span te hê?
Wat leer elk van hulle vir jou en wie is die grapkas?

Dit is definitief ‘n groot voordeel om sulke ervare en suksesvolle spanmaats te hê. Dit het ‘n groot rol gespeel in my vordering as ‘n fietsryer laas jaar. Nico het definitief die meeste van sy kennis aan my oorgedra, van wedrentaktiek, korrekte voeding, fiets opstel, herstel en vele meer. Gawie het my baie geleer van deursettingsvermoë. Grapkas moet definitief Matt wees. Hy is ook nog jonk en ek sal graag in sy voetspore wil volg. Matt is ook beslis die sterkste ryer in die span.

Span NAD Pro besig met voorbereiding vir hul 2019 seisoen.

Q. Wat sou jy sê is jou sterk- en swakpunte as ’n bergfietsryer?

Ek sou sê my sterkpunte is kort harde afstande soos die wat jy in XCO en maratonwedrenne ervaar. My gunsteling wedrenne is waar daar baie klimme is. Swakpunte is dalk ultra-maratons (langer as 100km) omdat ek nog nie te veel ondervinding daarvan het nie.

 

Q. Wat is jou en die span se groot drome vir 2019? Wat wil julle graag bereik?

Vir ons span is ‘n groot doelwit om die African jersey by Epic te wen. Ons wil natuurlik ook ons titels verdedig by die groot stage races (W2W, Sani2C, 3 Towers ens.). My groot mikpunte is om weer ‘n groot stage race te wen asook top 15 by ‘n XCO World Cup en om SA XCO Champs U23 te wen.

2018 was alles en meer as wat ek verwag het. Dit is ‘n voorreg om deel van so ‘n professionele span te wees. Sonder hulle ondersteuning en mentorskap sou al my prestasies nie moontlik gewees het nie. Die hele span sien baie uit na die 2019 race season.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*