VARSITY MTB CHALLENGE

Die pragtige Du Toitskloof berge het gesorg vir n paar moeilike klimme.
Foto: Asam Engage

Ter voorbereiding vir my eerste Wines2Whales-resies wat binnekort plaasvind het ek en ’n vriend onlangs die Varsity MTB Challenge in die Paarl aangepak.

WOORDE: FRANS LE ROUX / FOTO’S: ASEM ENGAGE

Die tweede aanbieding van die FNB Varsity MTB-uitdaging het aan die einde van September by Nederburg-landgoed in die Paarl plaasgevind. Die byeenkoms fokus op universiteite en hul onderskeie bergfietsspanne wat teen mekaar meeding. Gelukkig is daar ’n afdeling vir die publiek om te kon deelneem en ek en my Wines2Whales spanmaat, Erik Knoetze het die twee-dag uitdaging aangepak.

DAG EEN

Die eerste dag se weerstoestande was gunstig en deelnemers kon die oggend by Nederburg hulself bederf met ’n heerlike ontbyt voor die dag se aksie sou afskop. Op die trap-spyskaart was ’n 50km-roete met ongeveer 1 400m se klim. Beide ek en my spanmaat is oorspronklik van die Paarl so ons het onsself daaraan getroos dat ons ten minste die meeste van die roete sou ken. Met die horlosie wat 08:00 wys is ons teen ’n redelike spoed by Nederburg uit. Oor die teerpad en dadelik op die grondpaaie tussen die plase deur. ’n Paar minute later het ons by ’n skerp klim op ’n olyfplaas begin ry voor ons agter gekom het waarheen ons op pad was. Geen ruskans en op ons ‘koue’ bene moes ons deur die gewese Hawequa-plantasie vleg tot heel bo. Die kronkelpad wik en weeg tot bo teen die Dutoitskloofpasteerpad voor deelnemers weer teen baie hoë spoed afdraand gevlieg het. Ek noem dit die gewese Hawequa-plantasie, want vroeër die jaar het erge veldbrande die berg en sy digte woude onherkenbaar verwoes. In 2016 kon mens vir ure in Hawequaplantasies met jou fiets rondry sonder om blootgestel te word aan die elemente. By die Varsity MTB-uitdaging het elke deelnemer egter die blootstelling aan die elemente ervaar toe ons sonder enige skaduwee of beskerming teen die wind, die roete moes voltooi. Die einste wind was so sterk op ’n stadium dat ek gesien het hoe ’n deelnemer van sy fiets afgewaai word. Natuurlik het die erge wind ons spoed beïnvloed en ons het maar versigtig tot onder in die vallei gery. Na ’n kort enkelspoorpad moes ons ’n paar korter skerp klimme trotseer voor ons tot onder die groot N1-brug gery het. Hier was darem ook ’n waterpunt en genoeg lekkernye om die laaste 20km terug na Nederburg te versag. Dag Een was heerlik en na bietjie meer as 3h30m het ons oor die eindstreep gery.

Elke dag se skof het weggespring by die prentjie-mooi Nederburg Estate.
Foto: Asem Engage

DAG TWEE

Op Dag Twee is ons weer by dieselfde Hawequa-klimme tot bo voor ons hierdie keer in die  rigting van Wellington se Welvanpas-roetes weggedraai het. Die einste wind was steeds daar maar die kwik het bo 30 grade gaan draai, so die elemente was selfs erger as op Dag Een. Met byna 60km se roete op die kaart het ek en my spanmaat geweet ons gaan dinge aan die begin rustiger moet vat om darem sterk te kan eindig. Diep in een van die Hawequa-klowe is nuwe paaie gebou waar ons teen ’n slakkepas af is. Stormsterk wind en poeiersand het die vordering verder bemoeilik. Ons was egter bly om in bekende Welvanpas te kon rondspeel vir ‘n paar kilos. Ons tweede waterpunt van die dag was by die skilderagtige Val du Charronwynplaas waar ons al die nodige verslind het voor ons verder moes ry. Hier het ons gedink ons gaan net omdraai om weer terug te keer na Nederburg, maar ons was toe nie so gelukkig. ’n Hele paar lang en sanderige klimme teen die hange van Groenberg het ons geduld en uithouvermoë deeglik getoets. Ons kon darem weer met vinnigvloeiende enkelspoorpaaie terug na onder beweeg waar ons verby Bosman Family Vineyards gery het. ’n Noodwaterpunt wat hier opgerig is, het welkome verligting van die hitte gebring. Ons het uiteindelik terug in die rigting van Nederburg begin ry maar moes nog ’n hele paar klimme rondom Druk My Niet, Augusta en Buffet Olives trotseer voordat ons Nederburg kon sien. Met net meer as 4h30m verstreke het ons oor die eindstreep gery waarna ons vir die eerste koue bier gaan soek het. Na meer as 100km en byna 3 000m se klim in twee dae was ek beslis meer uitgeput as my spanmaat. Die roetes was baie goed uitgelê, die waterpunte was uitstekend beman en die logistiek van die byeenkoms puik. Vir 2018 sou ek egter hoop dat die roete se formaat omgekeer word sodat deelnemers op Dag Een kan sukkel en ’n makliker Dag Twee kan geniet. Dankie aan ASG Events en Nederburg vir die geleentheid om die Varsity MTB Challenge te kon geniet

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*