Waar was die Suid Afrikaners?

HENDRIK LEMMER vertel in hierdie uitgawe wat nou juis die probleem is met die SA-bergfietstoneel. Plaaslike sterre moet beter ondersteun word om nuwe hoogtes te bereik.

Geen Suid-Afrikaners was te sien aan die voorpunt van die hoof resies nie.
FOTO: EPIC WORLD CUP/ANDREW MCFADDEN

Dis ’n vraag wat baie mense, mense wat fietsry volg of van die locals hier op my dorp wat bietjie die Wêreldbeker Cross Country of Epic ’n bietjie gaan kyk het, vir my vra. Soos mense
is, probeer van hulle sommer hulle eie vraag antwoord met die volgende sin of hulle luister na wat my opinie is. En met my opinie sal ek versigtig probeer wees. Indien dieselfde toeskouers volgende week by ’n Springbokrugbywedstryd, of ’n Protea-kriekettoets sit en hul span kry ’n pak slae vra hul en die media baie erger vrae; in fietsry is ons nie gewoond daaraan om ons ryers te kritiseer nie. Ek gaan probeer om nie negatief te wees nie, maar nêrens was Suid-Afrika naby aan wen nie.

En ek praat nie nou van die uiters onkompeterende Epic-vrouewedren nie. Ek kan nou tegnies raak en probeer redes gee, so ek kan noem dat ons jong ryers te veel fokus op langafstand en nie genoeg speel op hul fietse, dat ons cross country suffer as gevolg van ons fokus op skofwedrenne en marathons. (Een van die vroue wat die Epic gewen het, het nog nooit voorheen ’n skofwedren gery nie.) Of dat ’n plaaslike ryer net hard genoeg oefen om sy plaaslike kompetisie te wen; ek was self ’n fietsryer so ek weet wat ek bedoel. Maar die grootste rede wat die ryer self sal gee is GELD en ondersteuning. As jy vra waar is die SuidAfrikaanse ryers, moet jy vra, waar is die geld?

Nou, ek is nie presies op datum met wat elkeen van ons “professionele” ryers betaal word nie, of wat hulle deur die dag moet doen om die pot aan die kook te hou of die wiele aan die draai te hou nie, maar ek ken ’n paar ryers wat net hul fiets hoef te ry, en so nou en dan tweet oor hul beste fiets ooit, en beste recovery drink wat beter as kos is. Ek ken ook baie talentvolle ryers wat ’n top 20 in ’n Wêreldbeker of ’n Epic kan ry wat opgehou het en nou swot of in die fietswinkel werk. Die voordeel wat die voltydse professionele ryers het bo ander wat nog in die plaaslike fietswinkel moet werk is onmeetbaar. So ons ryers het borge nodig, regte borge wat van hul voltydse fietsryers maak, regte borge wat hul Switserland of Duitsland toe stuur om daar te gaan bly, oefen, race, eet en slaap. Regte borge wat betaal vir die beste fietse, afrigters, training camps, die regte blyplek met ’n goeie bed en wat ook al hul nog benodig om die top te bereik.

Kyk hoe goed het die SA Rugby Sevens-span wat hier op Stellenbosch by die high performance institute gebaseer is, verbeter. Of die padryers soos Daryl Impey, Louis Meintjes, Ash Moolman Pasio en die ander Dimension Data ryers. Ek was ’n paar jaar gelede hoof van Fietsry Suid-Afrika se padfietsprogram met die doel om ryers in die Tour de France en ander groot wedrenne te sien. Ons het sowat 10 ryers ondersteun (betaal) om voltyds in Europa te race. Hulle was nie toegelaat om vir ’n plaaslike “pro”-span te ry, soms vir meer geld, net om die Argus te wen nie. En dis die enigste manier.

Borge, ondersteuning, geld, en dan kritiek soos wat ons die Springbokrugbyspan gee indien hulle nie goed genoeg is nie. Maar om nou te kritiseer is dalk nie regverdig nie. Kom ons gaan soek daai borge, die talent is hier. En in die tussentyd, laat die kinders asseblief tog nie oefen asof hulle ’n Epic gaan ry nie. Laat hulle speel en skills oefen, die watts en goeters kan later kom.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*