Die regte Mauritius

Cherise Stander is die ongelooflike geleentheid gegun om in Mauritius aan die Deutsche Bank 100km-wedren te gaan deelneem. Sy het met groot opgewondenheid die vliegtuig bestyg.

Maar my vlug was vol pasgetroude paartjies op wittebrood en ek het gou besef dit was miskien nie die beste idee om alleen na so ‘n tropiese eiland te toer nie, veral nie nadat ek en Burry twee jaar gelede op die einste eiland saam was nie.

Die eerste dag het ek die eiland op my fi ets gaan verken ek wou die regte Mauritius sien, ruik en proe. Die vakansie-oorde is beeldskoon en rentjiemooi, maar net buitekant in die woonbuurte is die armoede duidelik sigbaar. Ek het halfpad deur een van die woonbuurte by ‘n pikante winkel tot stilstand gekom en besluit om my naels te laat verf. Die werknemer het my met ope arms verwelkom en tuis laat voel. So deur die naelverwery het sy my van hul kultuur en geloof vertel. Ek het die winkeltjie verlaat met die gevoel dat ek ‘n vriend gemaak het.

Lekker rustig voor die wegspring in Mauritius
Lekker rustig voor die wegspring in Mauritius

Ek het met groot verassing uitgevind dat Anriette Schoeman, Arran Brown en Werner Moolman my die volgende dag gaan vergesel en dat ek nie vir ‘n week alleen net in verliefde paartjies se gesmooch hoef vas te kyk nie.

Ons het oppad hotel toe na ons oefenrit by ‘n pandjieswinkel gestop en nadat die eienaar gehoor het ons is van Suid- Afrika het hy ons rum en Coke aangebied… sy gesegde was dat ons moet drink en happy wees. Sy vriendelikheid en tevredenheid was duidelik sigbaar en hy het al vier van ons vinnig laat giggel soos skoolmeisies. Na so een of twee… oukei dan, drie glasies rum en Coke het ons middagete gaan eet by ‘n wonderlike restaurant wat aan die Springboklegende Cabous van der Westhuizen behoort. Ons het land en sand met hom gesels en na amper agt uur in ons fi etsryklere besluit dit is uiteindelik tyd om terug te keer hotel toe om ons koppe te begin regkry vir die volgende dag se wedren.

Die rendag het aangebreek en almal het saam in een groep begin. Na 10 kilometer het Arran en Werner laat wiel en die bondel in klein groepies opgebreek. Ek en Anriette was in ‘n groep van sowat 15 jaers wat almal goed saam gewerk het. Ons was nie sterk genoeg om die wenners te vang
nie maar het ‘n vinnige pas tot die einde toe volgehou.

Die wenstreep was sowat 50 meter na ‘n baie skerp draai en ek het besef dat om eerste om die draai te kom was die enigste manier om die wedren te wen. Ek het dit reggekry en was so opgewonde om eerste oor die streep te eindig. Dit was wonderlik om weer saam met Anriette te kon deelneem en ek het besef hoe baie ek na wedrenne verlang.

Om die vakansie af te sluit het ons saam met die dolfyne gaan swem. Dit was ‘n ongeloofl ik ervaring om vir ongeveer 45 minute die see binne raakafstand met dié wonderlike diere te deel.

Dit was ‘n onvergeetlike toer en ons was op die hande gedra. Dankie aan al die ander Suid-Afrikaners wat die ervaring saam met my gedeel en dit so spesiaal vir my gemaak het. Julle is ware vriende. Ek kan die wedren baie sterk aanbeveel en die organisering was uit die boonste rakke.  Tot volgende maand!

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*