Soos Shayne Dowling se goeie pel Emile Joubert sê: “As jy Mosbolletjies gaan bak gebruik mos, nie druiwesap nie!” met ander woorde, om die resep reg te maak moet jy die regte bestanddele hê.
Johan en Gerda Kriegler het sonder kwessie al die regte bestanddele en as ’n gevolg het hulle die perfekte resep in die Houwhoek MTB Toer gebruik.
Die Toer is basies die laaste twee dae van W2W sonder ’n klompie kilo’s en ’n paar steil bulte wat vir ’n moerse klomp pret sorg. Niks te moeilik en glad nie te maklik nie, veral die eerste dag, bied die Houwhoek iets vir almal – sonder twyfel die gewildste MTB toer in die Kaap. Die twee dae byeenkoms is vir meeste die eerste multi-dag bergfiets “stage” wedloop waaraan hulle deelneem. Daar is geen amptelike tyd geneem en jy ry teen die spoed waarmee jy gelukkig voel. Almal word met dieselfde professionele diens hanteer – daar is geen hulle (die spoedvarke) en ons (die diesels) nie – almal ondergaan dieselfde ervaring, dieselfde roete en dieselfde fantastiese geselligheid en gevoel van deel wees. Om te sê die Elgin-vallei bied van die beste singletracks, roetes en pragtige omgewing om MTB-fiets in die Kaap te ry sal nie baie teenstand kry nie. Veral die ongelooflike singletracks en fietspark wat Paul Cluver aanbied. Beter sal jy nie kry nie!
Die tweede dag begin weer by Houw Hoek Inn en dadelik jaag jy die Botrivier wapad af. ’n Kans om die dapperheid en durf van die Voortrekkers te waardeer, om Bains se padkuns te ervaar (sonder teer) en om jou tweede dag van fietsry te begin met ’n groot glimlag en ’n gelukkige hart. Oor privaat grond met singles wat JK en sy span heel jaar handhaaf. Selfs nie die jaar se groot vure en die groot skade wat die landskap opgedoen het kon die geesdrif demp nie en voor jy die sweet uit jou oë kon vee was jy in die pragtige Hemel-en-Aarde vallei. Hierdie jaar vir die eerste keer het jy die pad na Hamilton Russell vroeg verlaat en die boonste reeks van die Hermanus MTB-roetes vasgevat, die lekkergoed voor die groot keuse – vat jy Hamilton Russell se steil wit pad aan of neem jy die maklike roete (op die stunning Hermanus MTB- roete) na die eindpunt toe. Eintlik is daar geen keuse – wit pad op! Kort en steil met ’n groot beloning bo – behalwe ’n yskoue glasie Newton Johnson Sauvignon is jy heel bo Hermanus en die uitsig onderstreep hoekom ons die pragtige sport doen! Die Houwhoek Toer is ’n gesinsaffêre, met van die beste roetes en van die beste organisering van enige byeenkoms waaraan jy sal deelneem. Die een MTB toer wat ek nooit sal mis nie. Sien jou volgende jaar!