Dit is altyd hartseer as ’n goeie bergfi etswedren tot ’n einde kom, sê Fourie Kotze, meer so wanneer daardie wedren in alle opsigte een van die bestes op die kalender is.
Dit is daarom glad nie vreemd dat ek hier agter my lessenaar sit en tob nie. Dit gaan oor die pas afgelope Ride The Rhino, ’n drie-daagse skofwedren tussen Langebaan en Durbanville.
Een van die vernaamste vereistes vir ’n onvergeetlike wedren is ’n spanmaat met wie jy goed oor die weg kom. En ek kon vir niemand beter gevra het as Vera Adrian, die Namibiese XC kampioen nie. Ons het ’n paar weke gelede begin saamry as ’n span en eerstens die Ride2Nowhere in die afdeling vir gemengde pare gewen. Na ons oorwinning in die Ride The Rhino is die kombinasie nou ’n permanente een…

Die eerste skof vanaf Langebaan na Darling strek verby die wêreldbekende Langebaan- strandmeer, deur die gewilde Weskusdorpie Yzerfontein en eindig 82km later by Darling. Onderweg word ryers trakteer met vars produkte van Darling Melkerye [ek gee my oogtande vir hulle drinkjoghurts], Spur-burgers en, as jy regtig wil, kan jy enige tyd by die waterpunte stop om te proe aan die beste wyne uit die plaaslike kelders. Dié skof is aanvanklik relatief plat, maar die byt kom oor die laaste 20 kilometer waar die oorgrote meerderheid van die skof se 1 400m klim lê en wag.
Die hoogtepunt van die 2013 Rhino was Dag 2. Dit strek oor 84km en het al die bestanddele om die roete ’n bergfi etsparadys te maak. Die skof het in gietende reën begin, maar selfs dít kon nie die gees van die ryers demp nie. Vir die volgende 4 ure het ek en Vera oor steil bulte getrap, asemrowende valleie deurkruis, teen skrikwekkende afdraandes afgejaag en gelag van plesier op kilometers van die beste enkelspoorpaadjies denkbaar.
Die aanvang van die laaste skof maak die Ride The Rhino uniek: elke ryer ontvang ’n gratis fi etsrytrui van die organiseerders en trap daarin om die boodskap van die broosheid van die renoster in Suid-Afrika aan die publiek oor te dra.
Hierdie skof begin in Darling en eindig na 90 kilometer by Meerendal. Op pad na die eindstreep moet die ryers ’n diep, yskoue rivier oorsteek, die berugte Quarry-klim uittrap [die Epic-ryers het dit áf gery] en hul vaardighede ten toon stel op ’n drywende brug; dis nodeloos om te sê nie almal het droog aan die anderkant uitgekom nie!
As jy ’n bergfi etswedren wil ry wat deur een van die mooiste streke in die land strek, wat uitmuntend georganiseer word en iets vir beide die naweekstryder en die racing snake bied, hoef jy nie verder te soek as Ride The Rhino nie – skryf sommer nou in vir 2014.