Mag Die Wat Positief Getoets Het Weer Kom Race?

Words by: Hendrik Lemmer

Die mense wat my persoonlik ken, dis die wat mooi van my praat, en die wat my net ken van social media (hulle hou minder van my) sal weet dat ek baie, baie, en nog meer baie, teen doping en dopers in sport is.

Ons het natuurlik geen idee van wie dope en wie nie dope nie, elke nou en dan toets iemand positief, hulle het dan ’n helse goeie verskoning. Doen jouself ’n guns en Google iets soos “doping excuses” en jy sal sien wat ek bedoel. Amerikaanse atleet LaShawn Merritt se verskoning was ’n produk wat sy penis sou verleng. Nie seker of ek daai verskoning sou gebruik het nie. Ek wonder of mens positief kan toets van viagra gebruik?

Die bekende krieketspeler Shane Warne se ma het vir hom iets gegee om sy “looks” te verbeter, hy het glo ’n double chin-probleem gehad.

USA-atletiek het die verskoning van nog ’n atleet aanvaar wat glo vier keer seks met sy vrou gehad het die aand voor ’n race! Ek en my vrou het die Transalp vir ons honeymoon gerace; gelukkig was die meeste stotery daar teen die helse Alpe uit. (Nee, ons fietse was nie weg toe ons terugkom nie.)

In 1983 het Adrie van der Poel getuig hy het van sy pa se duifpastei vir lunch gehad. Dit was wedvlugduiwe en daar was nie toetse van verbode middels op duiwe nie. Ja, sy seun is Matthieu, die cyclocross -bergfietsen klassieke champ. Hier in Suid-Afrika het ons iemand gehad wat suksevol beweer het die apteker het sy poeier gecontaminate in die pillebakkie waar die goed afgetel word.

In Suid-Afrika is mense ook halfdood siek vir jare as hul gevang word. Ek weet nie wie om te glo en wie
lieg nie. Ek sal wel nog ’n interview hou met een van die ryers wat so siek was en wedrenne wen. Na die lang inleiding is my vraag die maand: Moet ’n ryer weer vrylik kan deelneem na die skorsing uitgedien is?
Want nou het ons ’n situasie dat ’n ryer wat klaar sy of haar skorsing uitgedien het net die Cape Epic kan ry as dit voor ’n sekere datum was. Hulle nooi wel van die grootste dopers in die geskiedenis na hul event, want dit was glo voor hul datum waarop hulle besluit het. Ander events wil absoluut niemand met ’n geskiedenis van doping hê nie, en by ander is ryers wat positief getoets het en klaar hul skorsing uitgedien het welkom om weer op die podium te kom staan.

Iets hier is nie reg nie. Jy is of geskors of jy is nie geskors nie. Indien wedrenne onder UCI- en CSAreëls val, moet ryers weer kan deelneem. Wat ek wel voorstel is dat die strawwe harder en skorsings langer moet wees. Daar kan discount gegee word as jy jou verskaffers, mense wat geweet het, ander ryers se name verskaf. So gee vir iemand 10 jaar vir ’n eerste oortreding, maar as dit klaar is, is dit klaar. Ek is ook ’n ou wat glo aan second chances. Dit klink nou seker confusing, want dit is. Die Epic en ander wedrenne wat onder globale reëls val kan nie net aanhou om sy eie reëls te maak nie. As ’n event jou lewenslank wil skors moet jy lewenslank geskors wees, soos Lance. Interessant om te sien sy voormalige doping spanmaats ry masters podiums los op die Epic. Iets klink nie reg nie.

Ek is seker Yolande en Kevin sal met my saamstem.

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*