Die To Hell & Back is die ideale tweedag wedren vir alle bergfietsryers. Hierdie jaar was die 22ste jaar wat dit plaasgevind het. Die fikse racing snakes jaag mekaar vir 60km en die res, ook fiks, want hierdie is nie ’n maklike 60km nie, kom op hul eie pas aan. Ons was vyf vrouens wat die tog aangepak het en ’n kuiernaweek daarvan gemaak het.
Om vyf vrouens, vyf fietse en omtrent vyftien stukke bagasie in ’n Prado te laai was op sigself ’n uitdaging. Behalwe die Prado se jump start omdat ons die ligte aan gelos het, het die uittog voorspoedig gegaan. In Barrydale by Diesel en Crème het ons ’n heerlike middagete geëet waarna ons deur Oudtshoorn gery het na ons gastehuis, Wilgewandel, waar ons oorgeslaap het. Met registrasie, die Vrydagaand, by De Hoek-kampeerplek, voel jy sommer die rustige atmosfeer. Ryers slaan tentjies op en ander wat in gastehuise naby oornag drink nog ‘n biertjie vir die laaste carbo loading.
Saterdag by die begin word almal se tasse op trokke gelaai om in Die Hel in geneem te word. Die roete begin by De Hoek-kampeerplek. Die eerste paar kilometer is maklike teerpad totdat ryers regs draai op ’n growwerige enkelspoorpad wat lei na die Swartbergpas. Hier sit ek terug, kry ’n gemaklike pas en trap die 12 km pas uit tot bo. Die pad kronkel en jy sien nooit die einde voor jy amper bo is nie, so moenie dink die volgende draai is die einde nie! Die draaie het name soos Stalletjie, Witdraai en Fonteintjie. Die grondpad is in ’n goeie toestand, die uitsigte oor die Karoo pragtig en die berge indrukwekkend.
Bo-op die pas is die mooiste gesig. Aan die suidelike kant is die Klein Karoo, pragtige landerye onder besproeiing, en aan die ander kant is die pad na Prince Albert en die Groot Karoo, baie droër en meer bergagtig. Hier los jy jou remme tot by die eerste waterpunt, op 20km, waar vriendelike mense jou inwag om jou bottel en maag vol te kry. Dis lekker feestelik met musiek en almal is verlig dat hulle die pas oor is.
Nou volg jy die 40 km pad in na Gamkaskloof. Lekker rolling hills, skerp draaie en koel rivierkruisings, growwe pad-oppervlakte, mooiste proteabosse en berge om jou en jou mede-ryers. Op 37 km is die Spur-waterstop. Jy ruik dit al ’n kilometer ver. ’n Jolige klomp mense wat jou inwag met ’n skinkbord vol bief- en hoenderburgers. Met ’n vars gebraaide burger en ’n koppie vol skyfies is jou hande te vol om nog koeldrank ook te kry. Lekker man! Intussen word jou fiets se ketting gelube met Squirt en jou waterbottel word volgemaak.
Die volgende uitdaging is Heartbreak Hill wat voorlê. Jy sien hom lê in die verte soos ’n slang wat kronkel in die kloof, maar dis asof hy nie nader kom nie. Tog weet jy van hom as jy uiteindelik begin! ’n Paar kilometer se klim met ’n kronkelpad en ’n waterstop op 52km. Jy weet dis afdraande hierna tot onder, so jy gee jou laaste asem. Die uitsig wanneer jy bo kom en die Gamkaskloof verder sien met die tente daar onder maak die trap alles die moeite werd. Nou moet jy rem, want dis styl en die skerp kronkeldraaie is gevaarlik, die pad is uitgery en klipperig, maar die wiele rol vanself tot onder. Jy word ingewag met ’n koue bier by die einde en ’n plastiekswembad vir lafenis. 60km en 1 750m se klim klaar vir die dag!
Twee vorige kere het ek in die eerste kamp gebly met my eie tentjie en ’n groot kuiertent waar almal later braai. Dié keer het ons 6km verder in die volgende kamp gaan oornag. Ons weermagtent met ses slaapplekke het vir ons gewag, gerieflik ingerig met matrasse en beddegoed. Ons het by die restaurant op die gras gekuier saam met die ander ryers en stories uitgeruil totdat aandete bedien is. Heerlike skaapbredie, groente, pampoen, slaai, nagereg en genoeg drinkgoed om te koop.
Die Sondagoggend is ons vroeg na die eerste kamp waar die wegspring is. Die berg is reg voor jou en lyk uitdagend, maar niks meer as wat jy die vorige dag gedoen het nie. Gelukkig weet jy die dag is eintlik net 40km, want dan is dit weer 20km afdraande tot in De Hoek. Maar moet dit nie onderskat nie, die 40 km se klim knaag aan jou lyf en humorsin. Dis vir seker makliker om in Die Hel in te gaan as om daar uit te kom.
By die einde word elkeen soos ’n kampioen ontvang. Twee van ons vyf, Anneke en Rozaan was albei op die podium, so ons is in ekstase. Dan word daar gesels en gelag oor al die goed wat tydens die twee dae gebeur het. Na ’n verfrissende stort, iets te ete en oppak, is almal op pad huis toe. In die motor word bespreek wie ons volgende jaar gaan saambring, want dis darem te lekker en ons kom weer!