Totsiens 2013

2013 was loshande die moeilikste jaar van Cherise Stander se lewe en iets wat sy nooit vir haar grootse vyand sou toewens nie. Dit is moeilik vir haar om te glo dat die jaar uiteindelik aan sy einde is.  

Ek het my wonderlike liefdevolle ouma en die man saam met wie ek moes oud word in een jaar begrawe, iets wat ek nog vas glo een mens nie moet deurmaak in een jaar nie.

Maar ek het ook besef dat die Here jou nie op die rowwe pad in jou lewe alleen los nie. Hy het mense oor my pad gebring wat my op hul hande gedra het, wat nou nog deur elke emosie saam met my gaan en wie ek in die middel van die nag kan bel wanneer die verlange net te veel raak. Ek het die ware kleure van mense gesien en besef dat daar waarlik engele op aarde is.

Die volgende woorde van die Eminem-liedjie het my soos ’n boek oor die kop getref: God het vir jou skoene gegee; trek dit aan en wees trots op jouself. Dit is my lewenswoorde vir 2014. Ek vat elke dag soos dit kom en lewe om myself en Burry trots te maak. Om te glimlag deur my trane en te kies dat sy lewe gaan aanhou om my te inspireer. Ek weier dat sy dood my menswees gaan vorm en my in ’n negatiewe persoon gaan laat verander.

Cherise saam met Hanlie Booyens en Sharon Laws op die Pennypinchers Origin of Trails podium
Cherise saam met Hanlie Booyens en Sharon Laws op die Pennypinchers Origin of Trails podium

Die jaar se fietsry het bestaan uit ’n hele paar toere: Grape Escape, Epic, Jober2C, Sani2C, Cape Pioneer Wine2Whales. En elke bergfietstoer het sy eie storie en ek sal die herinneringe vir altyd koester. Ek kyk vorentoe met ’n  hart wat steeds swaar is, maar glo dat dit met tyd ligter sal word. Ek het besef hoe groot deel fietsry van my lewe uitmaak. Hoe gelukkig ek is om so ’n talent te kon kry.  Ek kies om die positiewe in elke situasie raak te sien. Ek kies om te glo dat Jesus ’n pad met my stap en glo dat Hy my in ’n rigting sal neem waar die lewe weer gaan sin maak.

Ek los julle met die volgende gedagte: Waardeer elke oomblik saam jou geliefdes – moenie altyd die toekoms injaag nie, geniet die tyd wat jy nou het. Onthou dat solank jy ’n dak oor jou kop het en kos het om te eet, is die situasie waarin jy is nie so erg nie. Maar enigiets kan gebeur. Wees lief vir jou medemens en glimlag. ’n Glimlag kan enige persoon se dag opkikker.

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*