Waar het dit alles begin?

In sy eerste kolom vir Full Sus skryf Hendrik Lemmer oor hoe dit alles vir bergfietsry in Suid-Afrika begin het.

So waar en hoe het mountain biking in Suid-Afrika begin? Om die waarheid te sê, ek is nie heeltemal seker nie, ek kan net praat van die Wes-Kaap en meer spesifiek Stellenbosch. Maar aangesien die wêreld se beste trails nog steeds hier is, gaan ek ʼn bietjie vertel van my experiences aan die begin…

Toe ek einde 1988 terugkeer van my verpligte twee jaar fietsry-diensplig in Pretoria kom ek dadelik agter hier het iets verander. Na die army begin ek fietse verkoop en vir elke drie resiesfietse begin ons ʼn dikwiel met “baie” ratte verkoop. Baie is natuurlik relatief, ek dink dit was 18 ratte, of in deesdae se taal ’n 3×6, natuurlik was dit ook 26ers, hardtails… en ook hardfronts. Ja ons het geen suspensie gehad nie, met baie hard gepompde tyres (tubes binne-in), en rame basies so groot soos ons padfietse se rame was.

Ek onthou hoe ons in die winkels vir ’n kliënt die regte fietsgrootte bepaal het… Jannie het bo-oor die fiets gaan staan, dis nou tussen die saal en die handvatsels, ek of Jannie lig dan die voorwiel stadig… en as die voorwiel so 5cm lig voor die toptube aan Jannie se eiers raak, was dit die regte size. Ek kan nie onthou hoe ons die dames-sizes bepaal het nie.

Ons het begin rondjaag op Papegaaiskop, Botmaskop, Eden en ander munisipale tipe plekke wat soos ʼn bos gelyk het. Daai tyd was daar nog nie regtig privaat plase oop vir ons nie, dit het stadig verander soos van die boere ook bergfietse begin koop het.

Terselfdertyd het die verskeidenheid van bergfietse meer geraak, en in al hoe meer dele van die land het mense begin grondpaaie ry. (dis voor die dae van singletracks).

Bergfiets wedrenne circa 1988, dit het soos 'n heel ander sport gelyk.
Bergfiets wedrenne circa 1988, dit het soos ‘n heel ander sport gelyk.

Soos wat julle weet, waar twee of meer vriende bymekaar is om ʼn ent te gaan ry, is daar ʼn race! In 1989 is die eerste mountain biking reeks wedrenne in die Wes-Kaap gehou. Een van die groot invoerders het dit begin borg en vinnig het ryers uit ander dele van die land teen ons kom jaag. Ek onthou spesifiek een van die eerste groot wedrenne in Eden-bos, Stellenbosch, waar ek elke rondte behalwe die eerste een op die afdraande geval het. Die rede was dat in daai dae ons nie voor die wedren die roete mag gery het nie, so die eerste rondte het ek nie geweet wat voor my was en het net gejaag, van die tweede rondte was ek mos nou bang en het elke keer geval.

Bergfietsryers (die nuwe sport) het gekom uit ’n kombinasie van padryers, mense wat BMX’e op skool gehad het, surfers en off.-road motorbikers. Aangesien ek uit die padfietswêreld gekom het was ek bietjie vinniger op die opdraandes en baie stadiger op die afdraandes as die res wat op wyn en dagga gery het.

Na ’n paar jaar het ons clip-in mountain bike pedale, m.t.b.-skoene en voorste suspensie gekry om ons oor die berge en dale te help.

Een van die groot hoogtepunte aan die begindae was ’n bergfietsry-bierdrinkfees oor Paasnaweek op ’n koppie buite Sedgefield op die Tuinroete. Die wenner was die persoon wat die vinnigste kon down-down, downhill en opdraandes ry met ’n babalaas. Kort daarna raak dinge ernstiger toe ernstige tipe mense begin met die nuwe sport en die fietsryfederasies met hulle reëls en goeters begin.

In 1991 begin die Argus met ’n mountain bike kategorie by die funride world champs, in die middel 90’s begin stage races kop uitsteek, nog ’n bietjie later die eerste MTB marathons, die eerste downhill World Cup op die plasie waar ons gewoon het in Stellenbosch en in 2004 die eerste Epic waar ek ook gelukkig was om by te wees. En aangesien die 100ste Epic skof so pas tydens die afgelope Epic was, skryf ek dalk volgende keer oor my interessantste, komieklikste oomblikke in die wedren wat meeste mense gans te ernstig opneem as ek kyk na die grootte van die Chill Zone (kroeg) relatief teenoor die chill zones op die eerste Epics en hoeveelheid deelnemers toe en nou. Natuurlik sal ek ook bieg oor my groot kortpad op ʼn Epic skof…

Bio:

Hendrik ‘Groot Lem’ Lemmer is ʼn fietsry-kommentator en ʼn eiendomsagent. Hy bly nog steeds in die tuiste van bergfietsry in Suid-Afrika, Stellenbosch en as jy nie omgee or ʼn Twitter-oorlog of twee nie kan jy hom volg: @GrootLem.

Leave a Comment

Your email address will not be published.

*